Pierre Brand · Afrikaanse Misdaadfiksie · Boksburg-Oos

Adjudant

Die man wat die reg terugneem.

Francois Venter het 36 jaar vir die wet gewerk. Hy het gesien hoe die stelsel faal. Toe het hy opgehou wag. Ses boeke. Een storie. Geen maklike antwoorde nie.

Nuut: DIE BAAI · Boek 6
R120 PER BOEK · AL 6 VIR R550 · BETAAL VEILIG MET PAYFAST · AFLAAI DADELIK
Nuut in die reeks

Die see gee hulle terug
op sy eie tyd.

DIE BAAI, Boek 6 in die Adjudant-reeks deur Pierre Brand
NUUT · BOEK 6

Die Baai

'n Adjudant-roman · Mosselbaai · Francois en Hattingh

Neville Arendse het 40 jaar lank aas gegrawe op daardie rotse en die see het hom nog nooit iets gegee wat hy nie gevra het nie. Toe sit die meeue een oggend op die verkeerde plek.

Francois Venter het 2 jaar lank geleer om verby te loop. Hy stap elke oggend na die punt, gaan die name een vir een deur en as hy blou ligte by die parkeerterrein sien, stop hy nie. Hattingh, 8 maande in sy eie huis in die baai, lees 4 paragrawe op bladsy 3 van die koerant en noem dit later op die skuit terloops, soos 'n man wat die weer noem.

Daar was nog een, verlede Julie by Hartenbos. Ander stasie, ander speurder, ander stapel. Niemand het hulle langs mekaar gesit nie omdat niemand 'n rede gehad het om dit te doen nie. DIE BAAI gaan oor 'n man wat presies weet hoe dossiere tussen stasies verdeel word en oor 'n stelsel wat so stadig werk dat hy dit kan gebruik.

PROLOOG · 14 MAART · DIE ROTSE
16 HOOFSTUKKE · 3 STASIES · 1 SKUIT
EPILOOG DEUR PIERRE BRAND
NOU BESKIKBAAR · R120 · PDF EN EPUB · AFLAAI DADELIK NA BETALING
Lees die proloog
Die Reeks

Ses Boeke. Een Man.
Geen Maklike Antwoorde.

Francois Venter vermoor mense. Nie op bevel nie. Nie vir geld nie. Hy doen dit omdat die land se howe dit nie doen nie. Sersant Nandi Zulu het die patroon eerste gesien. Kaptein Hattingh se lêer het nooit toegegaan nie. Die reeks speel af op die Oos-Rand, die strate, die stasies, die kanale en dit praat soos die mense wat daar bly. Elke boek staan op sy eie, maar saam vertel hulle een volledige storie. WORTELS, die vyfde boek, gaan terug na die begin en wys waar alles vandaan gekom het. DIE BAAI, die sesde, vat Francois en Hattingh saam die water op in Mosselbaai.

ADJUDANT — Boek 1
BOEK 1

Adjudant

Nege name. Drie jaar. Niemand het dit geweet nie, behalwe Nandi Zulu, wat die patroon gesien en geswyg het. Tot sy haar suster se aanvaller se naam by 'n koffie-urn aan hom gegee het.

R120
DIE LAASTE NAAM — Boek 2
BOEK 2

Die Laaste Naam

Die N17. 'n Fidelity-truck. R27 miljoen. En twee kleuters op 'n kleuterskool se speelgrond wat nie betyds uit die pad was nie. Francois het 'n naam in sy sak.

R120
DIE PUNT — Boek 3
BOEK 3

Die Punt

Mosselbaai. 'n Nuwe huis. Elrina se roosmaryn groei al in die nuwe tuin. Maar 16 name volg hom slaap toe en twee van hulle sit anders as al die ander.

R120
HATTINGH — Boek 4
BOEK 4

Hattingh

Die man met die lêer word die man met die storie. 'n Moord op sy eie drumpel. 'n Spoor wat boontoe wys. En 'n keuse tussen die boek waarvolgens hy nog altyd gewerk het en die waarheid.

R120
WORTELS — Boek 5
BOEK 5

Wortels

Die oorsprongsroman. Vier dele, vier oogpunte, 36 jaar. Waar die 16 name vandaan kom, wie hulle regtig was en wie Francois, Nandi en Elrina was voor die reeks hulle gevind het.

R120
DIE BAAI — Boek 6
BOEK 6 · NUUT

Die Baai

Mosselbaai. 'n Vrou op die rotse by laagwater, nog een by Hartenbos, drie stasies en drie stapels. Hattingh sê hy gaan 'n saak bou wat hof toe gaan. Francois sê net: “Goed.”

R120
DIE HELE REEKS · AL 6 BOEKE

Adjudant tot Die Baai

ADJUDANT, DIE LAASTE NAAM, DIE PUNT, HATTINGH, WORTELS en DIE BAAI. Al ses e-boeke in PDF en EPUB, in een betaling.

R550
R720 · JY SPAAR R170
Uittreksels

Lees voordat jy koop.
Of daarna. Jy sal wil.

Neville Arendse het 40 jaar lank aas gegrawe op daardie rotse en die see het hom nog nooit iets gegee wat hy nie gevra het nie.

Dit was die laagste water van die maand, springgety, die soort oggend waarvoor 'n man sy wekker op half vier stel omdat die klippe wat net twee keer 'n maand oop kom vir 'n uur of wat hulle rug wys en dan weer toegaan. Hy het die bakkie by die hek van die parkeerterrein laat vrek en met sy emmer en sy graaf oor die sand geloop met sy headlamp se beam voor hom wat in die seemis net 'n meter of drie ver gekom het en die see het gepraat soos hy altyd praat, in en uit, in en uit, sonder om iets te belowe.

Hy het na die verste punt van die rotsbank gewerk waar die wurms sit. Sy hande het geweet wat om te doen sonder dat hy hoef te kyk. Graaf in, gewig op die handvatsel, die nat sand wat oopskeur en die reuk wat opkom wat ander mense laat opgooi en wat vir hom net die reuk van werk is. Hy het gewerk soos hy altyd werk, sonder haas en teen die tyd dat die lug agter die Outeniquas begin grys het, was daar genoeg in die emmer vir twee dae se klante.

Die eerste ding wat hy agtergekom het, was dat die meeue verkeerd gesit het.

Hulle sit nie so nie. Meeue sit op die hoë klippe as die wind opkom en hulle sit op die water as dit stil is, maar hulle sit nie op 'n plek waar die branders oor hulle kan kom nie en daar was 'n klomp van hulle op die lae bank aan die oostekant, 30 of 40 van hulle, stil op 'n manier wat meeue nooit is nie.

Hy het sy graaf gevat en daarheen geloop, want hy is 'n man wat gaan kyk as iets nie klop nie.

Sy het met haar gesig na die see gelê.

Hy het eers gedink dis 'n seehond, want dit is wat 'n mens dink wanneer jy iets donker sien lê waar dit nie hoort nie en jou kop gee vir jou eers die maklike antwoord voor dit die ware een gee. Toe het die headlamp se beam oor die vorm getrek en hy het die lyn van 'n skouer gesien en die manier waarop 'n arm lê as daar nie meer iets is wat dit hou nie.

Hy het gaan staan waar hy was. Hy het nie nader gegaan nie.

Neville Arendse het in 40 jaar drie liggame uit daardie water sien kom. Twee was vissermanne wat van die rotse afgespoel is in weer waarin hulle nie moes gewees het nie en een was 'n jong man uit Kwanonqaba wat iets gedrink het wat nie vir 'n mens bedoel is nie en op 'n Sondagaand die see in geloop het. Hy het geweet hoe die see 'n mens teruggee. Die see hou hulle lank en gee hulle terug op sy eie tyd en teen dan is daar nie veel oor wat lyk soos 'n mens nie.

Hierdie een het gelyk soos 'n mens.

Dit was die ding wat hy nie kon verstaan nie, daar op die rotse met die water wat begin draai het en die eerste lig wat die grys van die see se rug begin wys het. Sy het gelyk asof sy gister nog geloop het. Haar hare het oor haar gesig gelê soos nat tou. Sy was aangetrek, 'n donker broek en 'n top wat lig was, miskien wit, miskien room, dit was moeilik om te sê in daai lig. Sy was kaalvoet.

En haar hande was voor haar.

Nie langs haar nie. Voor haar, die een oor die ander, op die manier waarop 'n mens se hande lê as iemand anders dit so gesit het.

Neville het 'n lang tyd daar gestaan en niks gedoen nie. Hy was nie bang nie, nie op die manier wat mense dink 'n mens bang is nie. Hy was net stil op 'n manier wat hy self nie kon verklaar nie en die enigste ding wat in sy kop was, was dat die water binne 20 minute gaan draai en dat sy gaan weggevat word as iemand nie nou kom nie.

Toe het hy sy foon uitgehaal en gesien daar is een streep sein op daardie stuk kus soos daar altyd is en hy het na die parkeerterrein toe begin loop, eers gewoon en toe vinniger en toe het hy gehardloop, 'n man van 61 met 'n graaf in sy hand wat oor nat sand hardloop terwyl die meeue agter hom opstyg en weer gaan sit.

Dit was 14 Maart.

Teen die einde van daardie jaar sou daar nog drie wees. Saam met die vrou wat die vorige Julie agter die ou skougrond by Hartenbos gekry is, sou dit vyf wees. Niemand sou hulle aan mekaar verbind het nie, want hulle het oor drie stasies gelê en net twee van hulle was ooit in die see.

'n Mens sien nooit die wortels nie.

Dit is die hele punt van hulle. Hulle werk onder die grond in die donker en niemand weet wat hulle doen nie en dan staan daar 'n plant en almal kyk na die plant en sê hy lyk goed of hy lyk sleg en niemand dink aan wat 12 jaar gelede gebeur het toe iemand besluit het om hom hier te plant en nie 'n meter links nie.

Hierdie is 'n boek oor die dele wat onder die grond was.

Francois Venter het in 1990 by die polisie aangesluit met sy pa se horlosie om sy pols. Nandi Zulu het in 2018 haar eerste dag as speurder gehad en oor 'n urn se kraan gesukkel wat skeef gesit het. Elrina Venter het in 1997 'n laventel op die verkeerde plek geplant en dit weer 'n meter links geplant en daai een het 14 jaar lank gelewe.

Niks daarvan lyk na iets nie. Dit is presies hoe dit werk.

En dan is daar die ander kant. Die 16 name. Mense sien 'n lys en hulle sien syfers en 'n syfer is 'n maklike ding om te dra want dit het geen gesig nie. Maar elke naam op daai lys was 'n mens wat op 'n dag iets gedoen het en aan die ander kant van elke een van hulle staan iemand anders wat nooit weer dieselfde was nie.

'n Vrou van 80 wat na haar man se horlosie soek in 'n leë bedkassie-laai.
'n Seuntjie van 7 wat leer hoe om nie te huil nie.
'n Meisie van 3 wat haar kombersie tot by haar ken optrek omdat haar oupa haar geleer het dat 'n mens jouself klein maak as die wêreld te groot word.
'n Man wat sy heining snoei op 'n Saterdagoggend met sy koffie wat staan en stoom op die stoep.
Twee kleuters op 'n speelgrond op 'n Dinsdag.

Hierdie boek gaan nie oor wat Francois Venter gedoen het nie. Dit is klaar geskryf. Hierdie boek gaan oor waar dit vandaan gekom het en wat dit gekos het en wie langs hom gestaan het terwyl dit gebeur en dit vertel dit deur 4 mense se oë oor 36 jaar.

Jy hoef nie die ander boeke gelees te het om hierdie een te lees nie.

Maar as jy hulle gelees het, gaan jy op 'n paar plekke stilstaan en dink: o.

Dit is waarvoor dit geskryf is.

Die Rynfield-kanaal stink na dooie water en roes en al die goed wat mense weggooi omdat hulle dink die nag gaan dit vir altyd hou. Francois Venter staan op die brug in Plantasie Straat en hou 'n man aan die keel vas en kyk af na die swart water onder hom terwyl Boksburg slaap.

Hy voel niks besonders nie. Dit is die vreemde ding — jy sou dink 'n man wat op die punt staan om iemand dood te maak, sou beef of sweet of voel hoe sy hart uitslaan soos 'n vuis teen 'n baksteenmuur. Maar Francois is vier-en-vyftig jaar oud en hy het ses-en-dertig jaar in die SAPD gesit en hy het baie dinge deur sy hande laat gaan, en hierdie oomblik is stiller as enige van hulle. Nie die stilte van 'n leegte nie. Die stilte van 'n besluit wat lank gelede gemaak is en wat vanaand net uitgevoer word.

Desmond Petersen het drie weke gelede uit die tronk gekom. Francois het die datum in sy kop gedra soos 'n splinter in die palm — altyd bewus, nooit vergete, en elke dag 'n bietjie dieper ingedruk.

Hy het dertien maande gelede in die hof gesit toe die landdros die vonnis uitgespreek het. Agtien jaar, ses gesuspendeer. Hy het die som in sy kop gedoen en dit het hom naar gemaak: Petersen is vier-en-dertig. Hy kom op een-en-veertig uit. Jong genoeg om dit weer te doen. En die stelsel — die groot, duur, amptelike stelsel — het hom 'n tweede kans gegee sonder om eers vir Tannie Betsie Marais te vra of sy daarmee gemaklik is.

Sy was nie. Francois ook nie.

Die water neem Petersen sonder 'n woord. Geen groot spat nie, net 'n donker opening en dan is dit net die kanaal weer, stil en stinkend soos altyd. Francois vee sy hande af, start die Hilux en ry huis toe Groenwyde toe op stil Boksburg-strate. Elrina slaap. Die huis ruik na laventelseep en die effense reuk van haar nagroom. Hy trek sy skoene uit in die gang en gaan lê op sy rug langs haar in die donker. Die gedagtes wat hy verwag het — die skuld, die twyfel, die moontlike insinking — kom nie. Net stilte. En daarin, die eerste keer in maande, slaap hy.

Die naam was Sipho Radebe. Adres in Vosloorus. Francois het dit gelees en dit weer gelees. Toe het hy dit saggies gevou en in sy baadjie se sak gesit.

Hy het lank gesit in die stil studeerkamer. Hy het gedink aan Nandi Zulu — die vrou wat hom gevolg het, wat die patroon gesien het, wat Hattingh gebel het, wat maande lank 'n lêer op hom gebou het en hom nooit gearresteer het nie omdat sy nie genoeg bewys gehad het nie. Die vrou wat by die urn gestaan het en sonder om te kyk 'n stuk papier neergesit het.

Sy het 'n grens oorgesteek. Hy het dit geweet. Sy het geweet en hy weet dit. Albei het dit geweet sonder om dit te sê, soos hulle so baie dinge geweet het sonder om dit te sê.

Hy het opgestaan, sy skoene in die gang uitgetrek, en in die donker na die slaapkamer geloop en langs Elrina gaan lê. Francois het na die plafon gekyk in die donker en geweet: hy is nie meer alleen nie. Vir die eerste keer in vier jaar is daar iemand anders wat weet — nie alles nie, maar genoeg. En daai iemand het by 'n koffie-urn 'n stuk papier neergesit.

Buite in Groenwyde het Boksburg aangegaan soos Boksburg altyd aangaan — luid en moeg en veerkragtig en gebreek en lewend, die soort stad wat jy haat en nie kan los nie, die soort plek wat jou maak wie jy is of jy dit wil wees of nie. Francois Venter het geslaap.

Jy hoef nie Boek 1 te gelees het nie. Hier is wat jy moet weet.

Francois Venter is 'n adjudant by Boksburg-Oos-polisiestasie. Ses-en-dertig jaar diens. 54 jaar oud. Hy ry 'n grys Hilux en dra sy pa se ou Seiko-horlosie — of hy hét dit gedra, tot hy besef het iemand kyk na hom. Hy vermoor mense. Nie op bevel nie. Nie vir geld nie. Hy doen dit omdat die land se howe dit nie doen nie — en hy het lank genoeg gesit en gekyk hoe dieselfde gesigte weer en weer by die stasie en hof instap, borgtog kry, en uitstap. Hy het begin tel. Nege mense oor drie jaar. Almal het iemand se lewe verwoes. Almal het die stelsel uitgelag. Niemand het dit geweet nie.

Sersant Nandi Zulu het dit geweet. Sy is 34, die beste speurder op die stasie, en sy het die patroon gesien lank voor enigiemand anders. Sy het dit nie gerapporteer nie. Sy het gewag. En toe haar suster Zanele verkrag is deur 'n man genaamd Sipho Radebe — 'n man met 'n lêer dik soos 'n telefoongids en geen vonnis nie — het sy Francois sy naam by die koffie-urn gegee. Sy het hom die naam gegee.

Kaptein Andries Hattingh van die Hawks het al lank geweet iets is verkeerd. Hy het Francois gevolg. Hy het 'n profiel opgebou. Maar bewys? Nul. Sy lêer bly oop.

Dit is waar ons is. Francois Venter lê in die donker met Sipho Radebe se naam in sy sak. En Nandi Zulu ry na haar suster toe met die wete dat sy 'n grens oorgesteek het waarvan daar geen pad terug is nie.

Nandi Zulu sit op 'n Woensdagoggend in November in haar kantoor op Boksburg-Oos-stasie. Die urn is vol. Die tapyt is steeds onidentifiseerbaar van kleur. Dlamini se stem is iewers in die gang. Die stasie het aangegaan soos stasies aangaan — sonder pouse, sonder herinneringe, sonder om te weet wat deur sy gange beweeg het.

Sy het 'n nuwe notaboek voor haar. Nie die Croxley A5 nie — die Croxley is vol; sy het dit gebêre op 'n plek wat niemand sou soek nie. Hierdie is 'n ander een. Dieselfde formaat. Dieselfde blou omslag.

Zanele bel haar elke Sondagoggend nou. Nie om oor die aanval te praat nie — Zanele praat nie meer daaroor nie. Sy het besluit hoe sy dit dra en dit is haar besluit. Sy praat oor haar werk, oor 'n man wat sy begin leer ken, oor 'n kursus wat sy wil doen volgende jaar. Haar lewe het aanbeweeg. Dit is die enigste ding wat Nandi vir haar wou hê.

Sy maak die nuwe notaboek oop by die eerste bladsy. Sy skryf een naam neer. Netjies, soos sy altyd skryf. Onder die naam, 'n adres. Onder die adres, 'n datum.

Sy maak die notaboek toe. Sy het werk om te doen.

Andries Hattingh het 'n gewoonte gehad wat niemand van geweet het nie. Elke oggend, voor hy sy rekenaar aangeskakel het, voor hy koffie gemaak het, voor hy enigiets gedoen het wat die dag van hom sou vra — het hy 'n minuut lank na sy kantoor se venster gekyk.

Nie na iets buite nie. Net na die venster self. Die glas. Die manier waarop die oggendlig teen die ou baksteengebou oorkant Cresswell Road weerkaats het en 'n bleek streep teen die plafon van sy kantoor in Silverton gemaak het — dieselfde streep, elke oggend, presies so breed soos 'n mens se hand. Hy het nooit omgekyk na daai streep nie. Hy het net geweet dit was daar. Dit was sy manier om te sê: nog 'n dag, nog dieselfde werk, nog dieselfde man.

Hy was 56. Oor vier jaar sou iemand anders in hierdie kantoor sit en na hierdie venster kyk en miskien nie eers die streep sien nie.

Die derde laai van onder in die filing cabinet. Daar het dit gelê.

Venter, F.J. — Adj. — Boksburg-Oos. Die lêer was nie dik nie — dit was nooit dik nie, want 'n man soos Venter laat nie spore nie. Wat daar was, was presies, netjies, en minder as wat Hattingh wou hê. 'n Forensiese beeldontleder se verslag. 'n Lys van roetes. 'n Foto van 'n linkerpols met 'n te-wye Seiko-band. 74% ooreenstemming. Genoeg vir 'n man soos Hattingh om te weet. Nie genoeg vir 'n hof nie.

Hy het dit een keer per maand oopgemaak. Soos vandag.

Kykvideo's

Kry 'n gevoel vir die wêreld

Die boeke in die Adjudant-reeks
Die Adjudant-reeks
Promosiebeeld vir Adjudant deur Pierre Brand
Die man wat die reg terugneem
Promosiebeeld vir Die Laaste Naam deur Pierre Brand
Die Laaste Naam
Die Skrywer

Pierre Brand

Pierre Brand
BOKSBURG · GAUTENG
Facebook →

Hierdie boeke het nie uit 'n idee gekom nie. Hulle het uit frustrasie gekom.

Ek het 'n groot deel van my loopbaan spandeer in besigheidsbedryf en risikobestuur in Suid-Afrika, en oor die jare het ek iets geleer wat hierdie land se mense almal weet maar wat ons selde hardop sê: die stelsel is soms erger as die probleem. Die gebreekte bewyskamers bestaan. Die dokketaanstande bestaan. Die borgtogte wat 'n ernstige misdaad met 'n koffieprys gelykstel, bestaan.

Ek skryf nie om te sê vigilantisme is die antwoord nie. Dit is nie. Francois Venter doen dinge wat verkeerd is in elke sin van die woord — wetlik, moreel, finaal. Maar ek skryf om te vra: wat gebeur met 'n gewone, ordelike, pligsgetroue mens as die stelsel waaraan hy sy lewe gewy het, hom jaar na jaar vertel dat die reëls geld vir hom maar nie vir die mense wat ander se lewens vernietig nie?

Ek is in Boksburg gebore en ek ken hierdie strate. Ek ken die manier hoe die Oos-Rand praat — die mengsel van Afrikaans en Engels wat nie 'n taalfout is nie maar 'n leefstyl. Die Adjudant-reeks is my poging om daai vraag eerlik te beantwoord.

Volg die Reeks

Nuus, uittreksels en meer
direk van Pierre af

Sluit aan op Facebook en wees die eerste om te weet wanneer nuwe inhoud verskyn.

Adjudant op Facebook